Waarom is die behoorlike ontwikkeling van 'n ooi se plasenta so belangrik ? 

Bom Louw
 March 02, 2018
Comments (0)
Breeding, selecting & reproduction


Die ontwikkeling en grootte van die plasenta word tussen dag 30 en dag 90 van dragtigheid bepaal.  Die plasenta skei die hormoon estradiol af, wat die uier voorberei op melkklierontwikkeling.  Die ontwikkeling van die uier gedurende laatdragtigheid sal die melkproduksiekapasiteit van die ooi bepaal.  Die negatiewe effek van swak voeding tydens middragtigheid op die ontwikkeling van die plasenta kan nie ENIGE TYD DAARNA opgehef word nie.

 

Optimale plasenta-ontwikkeling is baie belangrik vir ‘n hoë reproduksie- en lamgroeitempo. Geboortemassa is een van die belangrikste faktore wat lamoorlewing beïnvloed en hou verband met die onvermoë van te klein lammers (minder as 2.5 tot 3.0 kg met geboorte) om genoeg melk te drink. Maksimum oorlewing van lammers is gevind wanneer die geboortemassa tussen 3.5 en 5.5 kg was, terwyl lamvrektes met tot 15% toegeneem het wanneer die geboortemassa laer as 3.5 kg of hoër as 5.5 kg was.  Die finale grootte van die plasenta (nageboorte) bepaal hoofsaaklik die geboortemassa van die lammers.  Onvoldoende plasenta-ontwikkeling gedurende middragtigheid (tweede en derde maand van dragtigheid) gee aanleiding tot:
·         'n Toename in fetale vrektes,
·         lae geboortemassa,
·         swak lewensvatbaarheid met geboorte,
·         afname in die energiereserwes van die lam,
·         swak moedereienskappe van die ooi
·         laer melkproduksie en
·         toename in lammortaliteit
 
‘n Hoë voedingspeil gedurende laatdragtigheid kan nooit ten volle kompenseer vir swak plasenta-ontwikkeling in middragtigheid nie.  Die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta beïnvloed, is:
·         Voeding,
·         temperatuur,
·         aantal fetusse in die baarmoeder,
·         ouderdom,
·         kondisie en liggaamsmassa van die ooi.
 
Wanneer heelwat enkelinge klein met geboorte is, is ooie onwillig om lammers te laat suip en ooie traag is om melk vry te stel, is ondervoeding van dragtige ooie die heelwaarskynlikste oorsaak. Om sterk en lewenskragtige lammers met ‘n gewenste geboortemassa (3.5 – 5.5 kg) asook voldoende melk te produseer, moet die voedingspeil die eerste drie maande van dragtigheid sodanig wees dat ooie minstens hulle massas handhaaf om maksimum groei van die plasenta te verseker. Die kritieke stadium in die groei van die plasenta is tussen dag 30 en 90 van dragtigheid, wanneer dit vanaf 10 tot 100% van sy finale massa, groei. Goeie voeding gedurende laatdragtigheid is ‘n vermorsing indien voldoende plasenta-ontwikkeling nie gedurende middragtigheid plaasgevind het nie. Ondervoeding voor dag 100 van dragtigheid kan ook melkproduksie beïnvloed weens die betrokkenheid van die plasenta by melkklierontwikkeling.  Die grootte van die plasenta bepaal grootliks die grootte van die uier en gevolglik ook melkproduksie.  ‘n Afname van tot 25% in melkproduksie is by ooie waargeneem wat voor dag 100 van dragtigheid ondervoed is, ten spyte daarvan dat hulle goeie voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang het.  Die plasenta produseer hormone wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die uier en gevolglik die hoeveelheid melk beskikbaar met lam.  Die hoeveelheid hormone wat afgeskei word, hang van die grootte van die plasenta af.  Plasentale hormone speel ‘n baie belangrike rol in moedereienskappe, omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen die ooi en die lam onmiddellik na lam.  Onvoldoende plasenta-ontwikkeling kan aanleiding gee dat meer ooie hulle lammers weggooi, wat weer ‘n groot invloed op lamvrektes en gevolglik speenpersentasie het.  Hoë omgewingstemperatuur is een van die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta bepaal.  Dit blyk dat hoë temperatuur die vloei van die bloed en dus voedingstowwe na die baarmoeder (uterus) van die ooi beperk.  Hittestres kan plasenta- en fetusmassa met geboorte met tot 50% verminder.  Waar ooie gedurende middragtigheid by onderskeidelik 27 en 42 °C gehou is, het die lammers met geboorte onderskeidelik 2.9 en 3.9 kg geweeg.  Indien hoë omgewingstemperatuur (> 28 °C) voorkom, kan geboortemassa en lamoorlewing verbeter word deur die voorsiening van skaduwee in kampe gedurende die eerste drie maande van dragtigheid asook lamtyd.
 
Meerlingfetusse het dikwels klein plasentas as gevolg van oorbevolking in die baarmoeder wat tot kleiner lammers met geboorte aanleiding gee.  Somtyds produseer ooie, wat in 'n goeie kondisie is, en voldoende voeding gedurende laatdragtigheid ontvang het, klein en ondergewig lammers.  Fetale afsterwing kan die oorsaak wees van klein lammers met geboorte.  Die rede is omdat die oppervlakte van die uterus en die kotiledons (baarmoederkoeke) wat deur die dooie fetus in beslag geneem word, nie beskikbaar is vir die oorblywende lewende fetusse nie.
 
Die ouderdom van die ooi beïnvloed ook die die grootte van die plasenta.  Jong ooie het ‘n kleiner plasenta hoofsaaklik omdat hulle ‘n kleiner uterus as volwasse ooie het.  Kondisie, veral met paring, blyk saam met ouderdom 'n belangrike rol in die ontwikkeling van die plasenta te speel.  Meer aandag behoort gedurende middragtigheid aan skraal, maar veral jong vervangingsooitjies gegee word, veral omdat hulle self nog in 'n laat stadium van groei verkeer.  Hulle behoort in 'n aparte kamp met beter weiding gehou te word of addisionele lekaanvulling moet verskaf word.
 
Skrywer, Bom Louw, NWKV produksie adviseur bedank Dr Jasper Coetzee vir sy bydrae tot die skryf van hierdie artikel.
 

Leave a comment

Keep me updated?

Comments are moderated.
Be the first person to comment.

Quick Navigation

Month:
Author:
Category:

Bom Louw

Latest Blogs

Sheep shearing instruction manual  DOWN REGULATION OF OJD  WAAROM MOET EK IN-ENT? Praktiese bestuursvoorstelle en wenke vir lamgeboortes LAMSORG EN VOEDING:  VAN GEBOORTE TOT SPEENTYD  BLUETONGUE CONTROL WITHOUT VACCINE  Industry guidelines for farm procedures  TWEE TREE VORENTOE, EEN TREE TERUG  FOOT AND MOUTH DISEASE VIDEOS  KOMMUNALE BOERE KAN GROOT VONK WEES 
national-wool-growers-association-of-south-africa-communal-and-commercial

Follow Us

  

Head Office

+27 (0) 41 365 5030
+27 (0) 41 365 5035
nwga@nwga.co.za

OK / Close
Who doesn't like cookies?
This website uses cookies to ensure you get the best experience. Read more...