NOORD-KAAP “KON NIE SONDER GAWIE” NIE
Sonder Gawie van Wyk sou die Noord-Kaapse wolbedryf nie gewees het waar dit vandag is nie. Dit is hoe die Grootfontein Oudstudente-unie (GOU) geredeneer het toe hulle hoor dat Van Wyk genomineer is vir die Grootfontein-merietetoekenning wat hy verlede week verwerf het.
Volgens Abrie Aucamp, president van die unie, sou daar vandag net Dorperskape in die Noord-Kaap gewees het as Gawie van Wyk nie in die tuig was nie.
Van Wyk het die toekenning ontvang uit erkenning vir sy rol as ’n oudstudent wat uitsonderlike dienste gelewer het.
Groot gelukwense aan Van Wyk vanaf die NWKV-bestuur en -personeel. Ons is bevoorreg om iemand van sy kaliber as deel van die NWKV-produsentedienstespan te hê. Gawie se kundigheid en kennis oor die Merinobedryf en die wolskaap is onmeetbaar. Weer eens baie geluk!
|