NASIONALE KONSTITUSIE
NASIONALE WOLKWEKERSVERENIGING VAN SUID-AFRIKA (NWKV)
1. NAAM
Die naam van die Vereniging waaraan hierdie Konstitusie erkenning verleen, is die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika.
2. WOORDOMSKRYWING
In hierdie Konstitusie, tensy uit die samehang anders blyk, beteken –
2.1. “Vereniging”, die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika soos vermeld in Artikel 1 en saamgestel is kragtens Artikel 7 en 8;
2.2. “President” en “Vise-President”, die Nasionale President en Nasionale-Vise President kragtens Sub-artikel (9) van Artikel 11 verkies, en wat die pligte uitvoer wat aan hul onderskeidelik opgedra word;
2.3. “Dagbestuur”, die Bestuur wat saamgestel word om die Vereniging van dag tot dag te bestuur volgens die beleid van die Vereinging;
2.4. “Bestuur”, die Nasionale Bestuur soos saamgestel kragtens Artikel 9 en wat die bevoegdhede kragtens die Konstitusie aan hom verleen, uitoefen;
2.5. “Gebiedstak”, kan uit een of meer staatkundige provinsie waar wol geproduseer word, bestaan.
2.6. “Amptelike nommer”, die Springbokkopnommer gemeld in Artikel 3;
2.7. “Die Bestuurder”, die Hoofbestuurder van die Vereniging;
2.8. “Demokratiese gekonstitueerde byeenkoms”, die Nasionale Jaarkongres van die Vereniging soos saamgestel en byeengeroep kragtens Artikel 11;
2.9. “Jaarvergadering”, Byeenkoms van lede wat besluitnemingsmagte het oor sake van belang in hul Gebiedstak of Streek;
2.10 “Affiliasie”, enige gekonstitueerde produsente-, kleinvee- of belange organisasie waarvan die doelstellings nie botsend is met die van die Vereniging nie, en deur die Nasionale liggaam as affiliasie goedgekeur is;
2.11. "Statutêre Heffing”; beteken die statutêre heffing soos omskryf in die Nasionale Bemarkingswet soos gewysig;
“Heffing”; wolheffing kan ook ‘n vrywillige heffing wees wat dien as ledegeld.
2.12. “Lidmaatskapgeld”, beteken geld wat deur ‘n produsent aan die NWKV oorbetaal word om lid van die Vereniging te word en soos van tyd tot tyd deur die Nasionale Kongres vasgestel;
3. AMPTELIKE MERK
Die “Springbokkop” is die amptelike merk van die Vereniging. Enigeen wat aan die voorgeskrewe kwalifikasie voldoen, kan as Springbokkopklasser geregistreer word. Aan elke Springbokkopklasser word ‘n registrasienommer toegeken en as dit op enige baal wol aangebring word, is dit ‘n aanduiding dat die wol in daardie baal geklas is volgens die standaarde deur die vereniging neergelê.
4. DOELSTELLINGS
4.11. Die Vereniging tree as mondstuk op van sy lede en sy affiliasies in die Republiek van Suid-Afrika, sodat daar uit een mond gepraat en uitvoering gegee kan word aan alle sake wat die vereniging in belang van die wolskaapbedryf verrig, wat ‘n bydrae lewer tot die totale ekonomie van Suid-Afrika.
4.12. Om hierin te slaag, moet die Vereniging beskik oor ‘n onderbou wat hom in staat sal stel om met sy lede te raadpleeg, te beraadslaag en bedryfsinligting tot op grondvlak deur te voer.
4.13. Die Vereniging aanvaar dit as sy hoogste plig om die beskerming, bevordering en uitbouing van die wolbedryf te bewerkstellig en stel hom ten doel om ondermeer:
a) toe te sien dat produksie tegnologie vir alle wolboere bevorder word om te verseker dat die Suid-Afrikaanse wolboer kompeterend kan produseer vir die wêreldmark.
b) volle vertroue in te boesem by wolkopers in alle lande van die wêreld waar Suid-Afrika se wol te koop aangebied word, deur wolboere hier te lande aan te moedig om die regte tipe wol te kweek en dit op die doeltreffendste, eerlikste en aantreklikste wyse te verpak;
c) op elke moontlike wyse behulpsaam te wees met die bemarking van die wolskeersel van Suid-Afrika op die doeltreffendste en winsgewendste wyse;
d) van tyd tot tyd ooreenkomstig vereistes, standaarde daar te stel vir die klassering, verpakking en merk van wol, en om die nodige middele aan te wend vir die toepassing daarvan;
e) geriewe te skep vir die opleiding van wolklasseerders en die registrasie van gekwalifiseerde wolklasseerders ooreenkomstig die vereistes deur die Vereniging bepaal;
f) om die Springbokkopregistrasie van die Vereniging te propageer en te bevorder en produsente aan te moedig om die registrasienommer op wolbale aan te bring;
g) in medewerking met ander wolproduserende lande, middele en weë te vind vir die voordeligste bemarking en bevordering van die Republiek se wolskeersel.
h) lede en verteenwoordigers te benoem in alle sub-komitees en organisasies waarop die Vereniging van tyd tot tyd mag besluit;
i) met Agri SA te affilieer en saam te werk op voorwaardes waarop daar van tyd tot tyd ooreengekom word;
j) ondersteuning te verleen aan of te affilieer met ander organisasies wie se doelstellings en werksaamhede tot bevordering van die oogmerke van die Vereniging strek;
k) byeenkomste, kongresse en onthale wat deur die Bestuur bevorderlik geag word vir bovermelde doelstellings, te reël en die koste daarvan te dra, met dien verstande dat die uitgawes aan onthale in ‘n bepaalde boekjaar nie die goedgekeurde begrotingsraamwerk oorskry nie;
l) in die algemeen ‘n gees van samewerking en onderlinge steun by wolboere aan te moedig en deur gesamentlike optrede die Vereniging uit te bou;
m) om lede van organisasies of instansies, op die wyse bepaal in Sub-Artikel 11 van hierdie Konstitusie, te benoem;
n) die Vereniging het die reg om direkteure in koöperasies of maatskappye waarin hy aandele besit, aan te stel;
o) bates, insluitende aandele in koöperasies of maatskappye, te verkry- of te vervreem- wat nodig geag word vir die nastreef van hierdie doelstellings.
p) om die “Cape Clean Clip” skoonskeerselprojek te bevorder.
5. STATUS
5.11. Die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika, ‘n primêre produsenteorganisasie, is ‘n regspersoon sonder winsbejag, behoorlik gekonstitueer in terme van hierdie Konstitusie en beskik oor alle regte wat daarmee gepaard gaan. Bestellings van prosesstukke en ander dokumente aan die Bestuurder word geag bestellings aan die Vereniging te wees.
5.12. Die Vereeniging beoog geen winsbejag vir enigeen van sy lede nie en geen deel van sy bates word op enige wyse hoegenaamd aan enige lid of amptenaar uitbetaal nie, met dien verstande egter dat die Vereniging sy lede, amptenare en ander persone wat aan hom diens lewer, kan besoldig en aan sodanige persone op grond van gelewerde diens ‘n pensioen of ‘n honorarium kan betaal of ‘n geskenk kan gee tot ‘n bedrag wat deur die Jaarkongres bepaal word.
5.13. Die Vereniging kan geskenke, donasies en/of bydraes van enigerlei aard aanneem en ontvang en volgens goeddunke daaroor beskik.
5.14. In geval van likwidasie of ontbinding:
a) is die aanspreeklikheid van lede van die Vereniging beperk tot gelde wat deur hulle aan die Vereniging verskuldig mag wees ten opsigte van ledegelde of rekeninge vir waarde geniet;
b) en in die geval dat die NWKV van SA ontbind word, moet die NWKV lede besluit of alle bates van die NWKV, nadat al sy skulde betaal is,
i) na ‘n wolorganisasie met soortgelyke doelstellings oorbetaal word;
of
ii) aan Agri SA oorbetaal word vir die aanwending en bevordering van die wolbedryf in Suid-Afrika.
5.15. ‘n lid van die Vereniging sal nie persoonlik aanspreeklik wees vir enige skulde van óf eis óf aksies wat teen of deur die Vereniging ingestel word nie (ongeag skuldoorsaak).
6. ONTBINDING VAN DIE ORGANISASIE
Die Organisasie mag ontbind indien minstens tweederdes van die lede teenwoordig en stem by ‘n vergadering wat die saak oorweeg ten gunste van ontbinding stem. “n Vergadering om die Organisasie te ontbind word belê deur die Nasionale Kongres of die Bestuur (soos toepaslik).
7. SAMESTELLING: GEBIEDSTAKKE EN AFFILIASIES
7.1 Samestelling
As Nasionale liggaam vir alle wolprodusentelede in die Provinsies van Suid-Afrika, bestaan die Vereniging uit Gebiedstakke en affiliasies soos van tyd tot tyd deur die Gebiedstakke bepaal en deur die Nasionale Jaarkongres goedgekeur.
7.2 Gebiedstakke
7.2.1 Bovermelde Gebiedstakke dien as onderbou tot die Vereniging en bestaan uit geografiese gebiede; of soos onderling volgens die behoeftes van Gebiedstakke ooreengekom.
7.2.2 Strukturele- en gebiedswysigings van Gebiedstakke is onderhewig aan die goedkeuring daarvan deur die Nasionale Jaarkongres.
7.2.3 Gebiedstakke kan onderverdeel word in subtakke, distriksbesture en/of streke op die wyse en in getalle soos deur elke Gebiedstak goedgedink, vir die mees doeltreffende skakeling en verspreiding van bedryfsinligting aan produsentelede tot op grondvlak ingevolge die bepalings soos vervat in artikel 13 (bevoegdhede van Gebiedstakke en affiliasies).
7.2.4 Gebiedstakke en hul onderverdelings sal funksioneer ooreenkomstig die bepalings van hul eie Konstitusies, met die voorbehoud dat die vermelde Konstitusies nie in botsing sal wees met enige bepaling van die Konstitusie van die Nasionale Vereniging nie. Enige wysiging aan bestaande Konstitusies van die onderskeie Gebiedstakke, sal onderhewig wees aan die goedkeuring daarvan deur die Nasionale Jaarkongres van die Vereniging.
7.2.5 Subtakke binne Gebiedstakke sal alle wolprodusente toelaat as lede onderhewig aan die bepalings van artikel 8.1, en ‘n struktuur daarstel vir doeltreffende skakeling met lede en die oordra van bedryfsinligting.
7.3 Gebiedstakbesture:
7.3.1 Die beheer van ‘n Gebiedstak berus by ‘n uitvoerende Gebiedstakbestuur.
7.3.2 Die Gebiedstakbestuur bestaan uit verkose verteenwoordigers van die geografiese gebiede of soos onderling volgens die behoefte van Gebiedstakke ooreengekom.
7.3.3 Die lede vir die Gebiedstakbestuur word aangewys ingevolge die Konstitusie vir die betrokke Gebiedstak.
7.3.4 Bestuurslede van ‘n Gebiedstak wat afkomstig is uit ‘n betrokke provinsie, sal optree as Bestuurslede vir die betrokke provinsie ten opsigte van aangeleenthede wat op die toepaslike provinsiale owerheidsvlak aangespreek moet word, of aangeleenthede wat spesifiek provinsiaal van aard is.
7.4 Affiliasies:
7.4.1 Die affiliasie van ander produsente-, kleinvee- of belange-organisasies by die Nasionale Vereniging sal onderhewig wees aan die goedkeuring daarvan deur die Nasionale Kongres.
7.4.2 Enige Suid Afrikaanse wolprodusente organisasie kan by die Vereniging affilieer met die goedkeuring van die Nasionale Kongres.
7.4.3 Affiliasies sal vir hul eie reis- en verblyfkostes verantwoordelik wees.
7.4.4 ‘n Register van alle affiliasies sal op rekord geplaas word.
8 LIDMAATSKAP
8.1 Enige wolboer wat ‘n lidmaatskapvorm voltooi het en van wie die goedgekeurde vlak van statutêre heffing of heffing vir wol en/of lidmaatskapgeld gevorder word in terme van die befondsingsisteem soos in die Provinsiale Konstitusies uiteengesit, en wat oor ‘n lidmaatskapnommer beskik, kan lid van die Vereniging word mits hy as lid van ‘n subtak (indien so ‘n struktuur in sy Provinsie bestaan) van die Vereniging aansluit.
8.2 Enige persoon wat aan die wolskaapbedryf verbonde is, maar wat nie kragtens Sub-artikel (1) lid kan word nie, kan deur die Bestuur as lid toegelaat word, maar sonder stemreg.
8.3 Enige persoon, terwyl hy/sy ‘n dosent of student aan een van die Universiteite, Technikons of erkende Landboukolleges of skole in die Republiek van Suid-Afrika is en kleinveekunde as een van sy vakke doseer of studeer, soos die geval mag wees, kan as lid van ‘n subtak van die Vereniging toegelaat word, maar so persoon se stemreg sal beperk wees slegs tot en binne die betrokke subtak.
8.4 Voltydse amptenare is nie as ampsdraers verkiesbaar nie.
8.5 Geen lid mag gelyktydig lid wees van meer as een wolprodusente-organisasie of vereniging wat wolprodusente verteenwoordig nie.
8.6 a) Enige lid wat nie die doelstellings van hierdie Vereniging bevorder nie (soos in Artikel 4 omskryf), of wat nie meer aan die lidmaatskapvereistes (soos in Artikel 8.1 omskryf) van die Vereniging voldoen nie, se lidmaatskap van die Vereniging kan beëindig word deur die Nasionale President op voorstel en goedkeuring deur die Nasionale Bestuur. b) Enige lid wat nie optree in belang van die Vereniging nie, soos beoordeel deur die Nasionale Bestuur, se lidmaatskap kan beëindig word deur die Nasionale President op voorstel en goedkeuring deur die Nasionale Bestuur.
9 BESTUUR
9.1 Die beheer van die Vereniging berus by ‘n Nasionale Bestuur.
9.2 (a) Die Bestuur bestaan uit provinsiale verteenwoordigers, uitgesluit affiliasies soos op die Register, en word as volg saamgestel:
(i) President (ex officio)
(ii) Visie-president (ex officio)
(iii) Die Voorsitter en Ondervoorsitter van elke Gebiedstak bedoel in artikel 7.3 en indien die Gebiedstak se Voorsitter terselfdertyd in die amp van President of Vise-president op die Nasionale liggaam dien, sy benoemde.
(iv) Die restant van die lede wat deur elke Gebiedstak bedoel in artikel 7.3 verkies word volgens die tak se verhoudelike bydrae tot die gesamentlike wolproduksiewaarde van die Gebiedstakke bereken op grond van die voorafgaande drie jaar se skuiwende gemiddelde wolproduksiewaarde, met ‘n minimum van een lid per Gebiedstak.
(b) Vir doeleindes van artikel (9.2) (a) (iv) geld die volgende bepalings:
(i) Die “wolproduksiewaarde” is soos deur die amptelike statistiekbron van tyd tot tyd deur die NWKV goedgekeur.
(ii) ‘n Tydperk van een jaar eindig op die einde van ‘n wolproduksieseisoen, naamlik Juniemaand van elke jaar.
(iii) By berekening van die getal bestuurslede word die berekende syfer soos volg afgerond, bv.
2.50 = 3 bestuurslede; 2.49 = 2 bestuurslede
(c) Een lid van elke affiliasie van die Vereniging.
9.3 Lede van die Nasionale Bestuur moet deur die Jaarvergaderings of Jaarkongresse van Gebiedstakke, of van die betrokke voormelde affiliasies, verkies word. Die verkose persone se name en adresse moet onmiddellik na afloop van die verkiesings, aan die Bestuurder verstrek word.
9.4 Toevallige vakatures in die Nasionale Bestuur moet by wyse van benoeming deur die betrokke Gebiedstak of affiliasies vir die onverstreke dienstermyn gevul word.
9.5 (a) Die President en Vise-President is ex officio lede van die bestuur en is vir hul ampsduur onderskeidelik die President en Vise-President van die Bestuur.
(b) Die President het ‘n gewone sowel as ‘n beslissende stem.
(c) Indien die President sowel as die Vise-President afwesig is, kies die vergadering ‘n President uit sy midde vir die betrokke vergadering.
(d) Die helfte van die lede van die Bestuur is ‘n kworum op sy vergaderings
(e) Die President het die bevoegdheid om oor die tyd, plek en prosedure van die vergaderings van die Bestuur te besluit insoverre dit versoenbaar is met die Bestuur se reglement van orde en bevoegdhede, asook oor enige vertolking van die reglement, en sy besluit is afdoende.
9.6 Die Bestuur besit die bevoegdheid:
a) om alle pligte wat van tyd tot tyd kragtens die Konstitusie aan hom opgedra en van hom vereis word, uit te voer asook om alle ander werksaamhede te verrig wat nodig mag blyk om uitvoering aan die doelststellings van die Vereniging te verleen;
b) om amptenare aan te stel om die werk van die Vereniging te verrig soos van tyd tot tyd vereis, en die vergoeding en ander diensvoorwaardes van sodanige amptenare vas te stel, onderhewig aan enige algemene bepalings wat deur die Jaarkongres neergelê mag word;
c) om persone weens voortreflike dienste aan die Vereniging gelewer, of om enige ander rede wat die Bestuur as voldoende beskou, as lewenslange ere-onderpresidente of ere-lede van die Vereniging vir goedkeuring deur die Jaarkongres aan te beveel, met dien verstande dat persone wat as sodanig aanvaar word, geen stemreg op die Jaarkongres en Bestuursvergaderings het nie.
d) Om reëls en regulasies op te stel of te wysig of te herroep wat nie met die bepalings van die Konstitusie in stryd is nie, ten opsigte van:
(i) die ordereëlings wat op vergaderings van die Nasionale Bestuur en die Nasionale Jaarkongres gevolg moet word;
(ii) die voorwaardes tot lidmaatskap van ‘n Gebiedstak of affiliasie asook die voorwaardes van aansoek deur privaat persone om lede te word;
(iii) die kwalifikasies, registrasie en dienste van gekwalifiseerde geregistreerde wolklassers asook dissiplinêre optrede teen enige sodanige klasser in die geval van nie-nakoming van die betrokke voorskrifte;
(iv) algemene voorskrifte vir die uitvoering van die Vereniging se funksies en die metodes waarvolgens die doelstellings van die Vereniging verwesenlik word;
Met dien verstande dat sodanige reëls of regulasies of enige wysiging of herroeping daarvan, nie bindend is nie alvorens hulle deur die Jaarkongres goedgekeur is;
(e) om alle aangeleenthede in verband met die geldsake van die Vereniging waarvoor die Konstitusie voorsiening maak, te behartig.
10 DAGBESTUUR
10.1 Daar moet ‘n Dagbestuur wees wat bestaan uit die Nasionale President, die Nasionale Vise-president en die voorsitters van die onderskeie Gebiedstakke, asook gebiedstakbestuurslede uit kommunale gebiede soos uiteengesit onder artikel 10.2. Wanneer ‘n Nasionale President of Vise-president die Voorsitter van ‘n Gebiedstak is, word daardie tak deur sy Vise-voorsitter in die Dagbestuur verteenwoordig. Indien die Voorsitter van ‘n Gebiedstak nie vir ‘n vergadering van die Dagbestuur beskikbaar is nie, kan hy deur die Onder-voorsitter van daardie Gebiedstak verteenwoordig word.
10.2 Spesiale voorsiening word gemaak vir kommunale boere op die Dagbestuur om verteenwoordiging op die hoogste vlak van besluitneming van die NWKV te verseker. Gebiedstakke met ‘n aansoenlike aantal kommunale wolprodusente (soos deur die Nasionale Kongres goedgekeur) moet verteenwoordigers kies wat op die Dagbestuur sal dien soos volg:
10.2.1 Oos-Kaap 2 verteenwoordigers 10.2.2 Vrystaat 1 verteenwoordiger.
10.3 Die Dagbestuur behartig alle sake wat of deur die Bestuur, of deur die Nasionale Jaarkongres aan hom opgedra word, asook alle aangeleenthede wat as van nasionale of dringende aard beskou kan word. Sodanige optrede en handelinge moet aan die nasionale Bestuur tydens die eersvolgende vergadering vir terugvoering voorgelê word.
10.4 Die Dagbestuur vergader volgens die behoeftes van sy werksaamhede.
11 VERGADERINGS EN KONGRESSE
11.1 (a) Die Vereniging moet jaarliks ‘n kongres hou op ‘n plek en ‘n datum(s)wat deur die Dagbestuur aangedui word.
(b) Die Jaarkongres is die hoogste gesag van die Vereniging.
11.2 (a) Die Jaarkongres se grootte word bepaal deur die Nasionale Bestuur en sal bestaan uit afgevaardigdes, uitgesluit affiliasies soos op die Register en soos volg saamgestel:
(i) President (ii) Vise-president (iii) Die restant van die lede uit die Gebiedstakke (bedoel in Artikel 7.2) verkies, word volgens die Gebiedstak se verhoudelike bydrae tot die gesamentlike wolproduksiewaarde van die Gebiedstakke, bereken op grond van die voorafgaande drie jaar se skuiwende gemiddelde wolproduksiewaarde. (iv) Twee afgevaardigdes van elke affiliasie van die Vereniging.
(b) By die berekening van die getal afgevaardigdes bedoel in subartikel (9.2)(a)(iii), geld die bepalings van artikel (9.2)(b) mutatis mutandis.
11.3 Slegs bona fide afgevaardigdes van Gebiedstakke of die affiliasies of hul sekundi, is daarop geregtig om die Nasionale Jaarkongres by te woon en slegs hulle het die reg om te stem oor, of deel te neem aan, besprekings oor enige saak op die Sakelys van die Jaarkongres. Enige ander persoon kan slegs, met die toestemming van die Voorsitter, toegelaat word om aan die besprekings deel te neem.
11.4 Notules van alle vergaderings moet in veilige bewaring gehou word en ten alle tye aan lede beskikbaar wees vir raadpleging.
11.5 Beskrywingspunte: Nasionale Kongres
(a) Elke Gebiedstak is daarop geregtig om beskrywingspunte vir bespreking deur die Nasionale Jaarkongres in te dien, op voorwaarde dat die Dagbestuur sekere punte vir bespreking kan groepeer of enige punt wat die Dagbestuur nie as van nasionale belang beskou nie, kan verwerp.
(b) Die Bestuur en/of die Dagbestuur is daarop geregtig om beskrywingspunte vir bespreking deur die jaarkongres in te dien.
(c) Die affiliasies het die reg om hoogstens drie beskrywingspunte per affiliasie na die Nasionale Jaarkongres te stuur op voorwaarde dat die Dagbestuur sekere punte vir bespreking kan groepeer of enige punt wat die Bestuur nie as van nasionale belang beskou nie, kan verwerp.
(d) Die Dagbestuur het ook die reg om beskrywingspunte wat laat ontvang word te aanvaar of te verwerp.
11.6 Die Gebiedstakke en/of affiliasies moet minstens 60 dae voor die Nasionale Jaarkongres alle beskrywingspunte vir bespreking op die Jaarkongres, asook hul uitvoerende bestuurs- en jaarverslae, tesame met die name en adresse van afgevaardigdes, aan die Bestuurder voorlê.
11.7 Spesiale Nasionale Kongres Die Nasionale Bestuur kan ter eniger tyd na kennisgewing, ‘n Spesiale Nasionale Kongres byeenroep op versoek van ‘n Gebiedstakbestuur. ‘n Skriftelike kennisgewing waarin die aard van die werksaamhede van so ‘n kongres duidelik uiteengesit word, moet minstens 30 dae vooraf uitgereik word. Geen ander sake as diè wat in die kennisgewing genoem word, kan deur so ‘n Spesiale Nasionale Kongres behandel word nie.
11.8 Spesiale Nasionale Bestuursvergadering Die Sekretariaat kan ook ter eniger tyd na ‘n skriftelike versoek van een-derde of meer lede van die Nasionale Bestuur, ‘n Spesiale Nasionale Bestuursvergadering byeenroep. ‘n Skriftelike kennisgewing waarin die aard van die werksaamhede van so ‘n Spesiale Nasionale Bestuursvergadering duidelik uiteengesit word, moet minstens 30 dae vooraf uitgereik word. Geen ander sake as die wat in die kennisgewing genoem word, kan deur so ‘n Spesiale Nasionale Bestuursvergadering behandel word.
11.9 Verkiesing: Nasionale President en Vise-President Die Jaarkongres kies uit sy lede by volstrekte meerderheid van die aantal stemme deur die stemgeregtigdes op die Jaarkongres uitgebring, ‘n Nasionale President en ‘n Nasionale Vise President en hulle doen diens tot na afloop van die Jaarkongres wat volg op die waarop hulle gekies is, met dien verstande dat by sodanige verkiesing die stemgeregtigde lede op die Jaarkongres teenwoordig by wyse van geslote stembriefies benoeming doen en stem en dat die volgende reëls geld:
(i) ‘n Kandidaat word as behoorlik genomineer beskou indien hy minstens vyf nominasies ontvang;
(ii) Indien slegs een persoon benoem word vind daar geen stemming plaas nie en word hy onmiddellik as verkose aanvaar;
(iii) Indien meer as een persoon genomineer word, word die name van al die benoemdes op ‘n kandidatelys geplaas en indien ‘n benoemde ‘n volstrekte meerderheid van die stemme wat uitgebring is verkry, word hy as verkose verklaar;
(iv) Indien geen persoon ‘n volstrekte meerderheid stemme verkry nie, word die proses van eliminasie gevolg deur die kandidaat(e) wat alleen of gesamentlik minder stemme verkry het as enige ander kandidaat, van die kandidatelys verwyder by die volgende stemming. Dieselfde prosedure word gevolg totdat ‘n persoon met ‘n volstrekte meerderheid verkies word. Indien daar by die laaste stemming ‘n staking van stemme is, word deur die lot beslis watter kandidaat as verkose verklaar word.
11.10 Die Nasionale President moet op alle kongresse en op vergaderings van die Bestuur en Dagbestuur voorsit en in sy afwesigheid moet die Nasionale Vise President as President optree. Indien sowel die Nasionale President as die Nasionale Vise President afwesig is, moet die aanwesige lede uit hul midde ‘n President vir die betrokke vergadering kies.
11.11 Die President het sowel ‘n gewone as ‘n beslissende stem.
11.12 Verkiesing van verteenwoordiger(s) vir Direksies, Rade, Trusts, ens. Die Jaarkongres verkies:
(i) uit die lede van die Vereniging, volgens die voorskrifte van sub-artikel (9) mutatis mutandis, ‘n verteenwoordiger of verteenwoordigers vir Direksies, Rade, Trusts, Komitees of Besture van enige ander instansie soos van tyd tot tyd nodig geag.
(ii) Die kongres wys ook uit die lede van die Vereniging volgens die voorskrifte van sub-artikel (7) mutatis mutandis, ‘n sekundus of sekundi aan vir die verteenwoordiger of verteenwoordigers vir Direksies, Rade, Trusts, Komitees of Besture van enige ander instansie soos van tyd tot tyd nodig geag.
(iii) Indien ‘n vakature vir ‘n verteenwoordiger in enige van bogemelde sou ontstaan, en die sekundus of secundi kan nie die vakature vul nie, sal dit aan die eerskomende kongres oorgelaat word om ‘n benoeming te maak.
11.13 Alle verdere nominasies geskied mondelings tensy die Jaarkongres anders besluit en all verdere verkiesings geskied met amptelike stembriefies.
11.14 ‘n Kworum op ‘n Jaarkongres of Spesiale kongres of vergadering bestaan uit die helfte van die persone wat afgevaardig is om die kongres by te woon.
12 FINANSIES
12.1 Die uitgawes van die Vereniging word gedek uit ‘n wolheffing en/of lidmaatskapgeld of enige ander bron van inkomste soos deur die Vereniging bepaal.
12.2 Die voorlegging vir ‘n jaarlikse begroting moet gespesifiseerde beramings bevat, met dien verstande dat een sentrale begroting opgestel sal word.
12.2.1 Gebiedstakbesture sal aanbevelings voorlê aan die Nasionale Vereniging betreffende finansiële ondersteuning vir die doeltreffende verspreiding van bedryfsinligting aan produsentelede tot op grondvlak of ander uitgawes in belang van die bedryf aangegaan deur middel van ‘n toekenning.
12.2.2 Honorariums sal aan die President en Vise-President uitbetaal word volgens ‘n besluit van die Nasionale Bestuur. Reis- en verblyfkostes word aan die President, Vise-President, Dagbestuur, Bestuur en Afgevaardigdes uitbetaal soos deur die Nasionale Bestuur besluit.
12.3 Die Vereniging moet ‘n rekening(s) by ‘n goedgekeurde bank of ander depositonemende instelling hou en op so ‘n rekening(s) kan alleen getrek word by wyse van tjeks of stukke onderteken deur ten minste twee persone wat van tyd tot tyd deur die Bestuur of Dagbestuur daartoe gemagtig word.
12.3.1 Die Dagbestuur magtig die Hoofbestuurder, en een van benoemde personeellede wat tekenregte op die NWKV Bankrekeninge het, om benewens gewone dokumentasie, ook kontrakte, tenders, ens. namens die NWKV te teken, maar in so ‘n geval, met die goedkeuring van die Dagbestuur.
12.4 Die rekenings van die Vereniging moet jaarliks nagesien word deur ‘n bevoegde firma van geoktrooieerde rekenmeesters deur die Bestuur aangestel.
12.5 Die Bestuur moet elke jaar die balansstaat, behoorlik nagesien, tesame met sy jaarverslag, aan die Jaarkongres voorlê.
12.6 Die boekjaar van die Vereniging eindig op die laaste dag van Junie elke jaar.
13 BEVOEGDHEDE VAN GEBIEDSTAKKE EN AFFILIASIES
13.1 Gebiedstakke en affiliasies het die bevoegdheid om hul Konstitusies op te stel, met dien verstande dat die bepalings van sodanige Konstitusies of wysigings daarvan, nie in werking tree nie alvorens dit deur die Nasionale Jaarkongres goedgekeur is.
13.2 Gebiedstakke en die affiliasies het die bevoegdheid:
(a) om alle handelinge te verrig wat in hul onderskeie Konstitusies veroorloof word en waarvan die oogmerk is om die doelstellings van die Vereniging of affiliasie te bevorder, en
(b) om reëls en regulasies op te stel om die bepalings van hul onderskeie Konstitusies tot uitvoering te bring en om hul werksaamhede te reël.
13.3 Die bepalings van die Konstitusies van die Gebiedstakke en die affiliasies mag op geen wyse teenstrydig met die bepalings van die konstitusie van die Nasionale Vereniging wees nie.
14 WYSIGING VAN SENTRALE KONSTITUSIE, REëLS EN REGULASIES
14.1 (a) Die konstitusie van die Sentrale Vereniging kan op die Nasionale Jaarkongres gewysig word, mits skriftelike kennis van die voorgestelde wysiging 60 dae vooraf aan die Bestuurder gegee is, tesame met ‘n duidelike uiteensetting van die strekking en aard daarvan.
(b) Die Bestuurder moet skriftelik kennis van sodanige wysigings, 30 dae voor die kongres, aan afgevaardigdes gee.
(c) Enige wysiging van die bepalings van die konstitusie kan slegs geskied met ‘n tweederde meerderheid van stemme by die Jaarkongres uitgebring, en sodanige wysiging of herroeping word onmiddellik van krag, tensy dit uit die inhoud daarvan anders duidelik blyk.
14.2 Nieteenstaande enige bepalings van hierdie konstitusie, kan die jaarkongres enige reëls en regulasies van die Bestuur wysig of herroep en sodanige wysiging of herroeping word onmiddellik van krag.
15 HERROEPING VAN KONSTITUSIE
Die bestaande Konstitusie van die Vereniging word hiermee herroep en deur hierdie konstitusie vervang.
---oOo---
BYLAAG TOT DIE KONSTITUSIE
NWKV VAN SA
REGISTER VAN AFFILIASIES
a) Rooivleis Produsente Organisasie Brand, A
b) Alle Wol Telersgenootskappe SA Veterinêre Raad D Odendaal Merino SA G van Heerden Dormer Skaap Telers Vereniging SA Vleismerino Telers V Greyling
c) Federasie van Kleinvee Telersgenootskap Londt, H
d) Lesotho Nasionale Wol- en Bokhaar Kwekersvereniging Mokoanyane,P
(Bogemelde Instansies is geregtig op een verteenwoordiger op die Nasionale Bestuur, en twee verteenwoordigers op die Nasionale Kongres).
---oOo---