RPO NUUS
VEEBOERE in gebiede waar slenkdalkoors die afgelope twee jaar voorgekom het, word aangeraai om hul vee ook teen Wesselsbronsiekte in te ent. Die rede is dat dié siekte dikwels saam met slenkdalkoors voorkom, sê prof. Leon Prozesky van die fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria op Onderstepoort. Daar is ’n aparte entstof teen Wesselsbronsieke by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) beskikbaar.
Die voorkoms van slenkdalkoors is in die afgelope jaar baie beklemtoon as die oorsaak van aborsies en vrektes onder skape, beeste en verskeie ander veesoorte. Ongelukkig is daar min inligting oor dié siekte beskikbaar, wat ook as ’n belangrike oorsaak beskou word van aborsies en aangebore afwykings onder veral skape en bokke in Suid-Afrika, sê prof. Prozesky.
Wesselsbronsiekte is ’n insek-oordraagbare virussiekte wat skape, beeste en bokke aantas. Die virus veroorsaak relatiewe hoë vrektes onder pasgebore lammers en bokkies.
Aborsies
Dit is ’n sub-kliniese infeksie in volwasse diere. Die siekte word ook verbind met aborsies in ooie en aangebore afwykings van die sentrale senuweestelsel, asook hydrops amnui (watersug van die plasenta) in ooie. Wesselsbronsiekte is in 1955 geïsoleer vanuit ’n geaborteerde skaapfetus in die Wesselsbron-distrik in die Vrystaat op ’n plaas waar skape met slenkdalkoorsentstof geënt was. Sedertdien kom uitbrekings van slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte saam voor, hoewel slenkdalkoors meer algemeen voorkom. Serologiese opnames het getoon dat Wesselsbronsiekte wydverspreid in Suid-Afrika en ons buurlande, insluitende Mosambiek en Zimbabwe, voorkom.
Groot ooreenstemming
Die Wesselsbronvirus tas veral die lewer en sentrale senuweestelsel aan. Wat die kliniese beeld en patalogiese letsels betref, is daar groot ooreenstemming tussen Wesselsbronsiekte en slenkdalkoors. Wesselsbronsiekte is egter ’n matige siekte met ’n laer vrekte- en aborsiesyfer. In aangetaste fetusse is geelsug en wydverspreide bloeding ’n algemene verskynsel. Aangebore afwykings van die brein is ook meer algemeen.
Eksperimentele data toon dat vrektes onder jong lammers wat met Wesselsbronsiekte besmet is, tot 27% in lammers van een tot drie dae oud kan wees. In kalwers, volwasse skape, beeste en bokke is dit ’n baie matige siekte met ’n lae mortaliteit. Indien besmette, dragtige diere met die Wesselsbronvirus besmet word, is die kliniese beeld afhanklik van die stadium van dragtigheid en sluit in aborsies, die retensie van gemummifiseerde fetusse (fetus-verdroging) asook hydrops amnui en verlengde dragtigheid in ooie.
Aangetaste lammers kan verskillende afwykings van die brein toon, insluitende porenkefalie en hidro-kefalie (waterhoof) asook artrogripose (booggewrigte). Nadoodse ondersoeke op lammers met Wesselsbronsiekte toon matige tot erge geelsug en wydverspreide bloeding. Mikroskopiese ondersoeke van die lewer toon gewoonlik matige tot ernstige nekrose.
Dit kan mense OOK aantas
Soos in die geval van slenkdalkoors, kan Wesselsbronsieke ook mense aantas. Uitbrekings van Wesselsbronsiekte het die afgelope twee jaar in onder meer Beaufort-Wes, Graaff-Reinet en Fauresmith voorgekom. Verdagte gevalle is ook aangemeld. Om Wesselsbronsiekte te diagnoseer, moet die volgende faktore in ag geneem word:
• Relatiewe hoë mortaliteit in pasgebore of jong lammers of bokkies.
• Geskikte klimaatstoestande wat voordelig is vir die aanwesigheid van groot hoeveelhede insekte.
• Die makroskopiese en mikroskopiese letsels in aangetaste diere.
Om die diagnose te bevestig, is dit noodsaaklik dat geskikte monsters ingesamel word vir mikroskopiese ondersoeke en die isolering van die virus.
Voorsorgmaatreëls
Aangesien die siekte ook in mense kan voorkom, is dit belangrik dat die nodige voorsorgmaatreëls getref word om moontlike besmetting te voorkom en dat geskikte monsters deur ’n professionele persoon, verkieslik ’n veearts, ingesamel word en korrek na ’n diagnostiese laboratorium versend word. Hou in gedagte dat ander virusse ook binne die groep van flavi-virusse val, waarvan Wesselsbronsiekte een is, wat soorgelyke aangebore afwykings/aborsies in skape en beeste kan veroorsaak.
Daar is minstens tien soortgelyke virusse in Suid-Afrika. Dit is dus noodsaaklik om so akkuraat moontlik te bepaal wat die oorsaak van die reproduksieprobleme of mortaliteit is. Daar is tekens dat van die ander flavi-virusse moontlik die oorsaak was van vrektes onder jong skaap- en boklammers die afgelope jaar.
‘n Mens moet dus nie sonder die nodige bewyse aanvaar dat slenkdalkoors of Wesselsbronsiekte die enigste oorsaak van reproduksieprobleme of hoë vrektesyfers in veral jong diere is nie, sê prof. Prozesky.