Wat jy moet weet oor die sensusopname
Waarom is dit belangrik?
Die belangrikste aspek in enige gemeenskap is sy menslike kapitaal. ’n Sensus is belangrik omdat dit help om ’n numeriese profiel van Suid-Afrika op te stel. Dié profiel beïnvloed besluitneming op alle vlakke in die regering sowel as die private sektor.
’n Bevolkingsensus is ’n volledige telling van die land se bevolking, waartydens demografiese, maatskaplike en ekonomiese inligting, sowel as inligting omtrent die behuisingstoestande van mense wat in Suid-Afrika woon, versamel word. Hierdie inligting kan byvoorbeeld deur die landbounywerheid vir besigheidsbeplanningsdoeleindes aangewend word. Indien ’n persoon kennis dra van die hoeveelheid en verspreiding van sy verbruikers, sal hy weet hoe om vir die verspreiding van sy produk te beplan.
Watter sort inligting sal tydens die sensus versamel word?
Dit is inligting oor ’n individu en sy lewensomstandighede. Die doel is om te bepaal hoeveel mense in Suid-Afrika woon en ’n profiel van die bevolking ten opsigte van ouderdom, geslag, onderwys, beroep, ekonomiese bedrywighede en ander belangrike karaktereienskappe te bekom. Inligting oor waar mense woon ten opsigte van behuising, toegang tot water en beskikbaarheid van noodsaaklike fasiliteite sal ook versamel word.
Wanneer vind dit plaas en hoe lank sal dit duur?
Die opname begin gedurende die nag van die 9de tot die oggend van die 10de Oktober 2011, wat die amptelike datum sal wees om die data weer te gee. As gevolg van die groot omvang van die opname, sal die dataversamelingstydperk egter strek vanaf 10 tot 31 Oktober 2011. Wanneer die opname afgehandel is, sal daar ’n opruimingstydperk wees. Dit sal aangewend word om huishoudings weer te besoek wat nie gedurende die dataversamelingsfase bereik kon word nie.
Hoekom word huishouding nou reeds besoek?
Die eintlike opname begin in Oktober, maar om ’n suksesvolle opname te verseker, het die werk reeds maande gelede begin. Die land is verdeel in kleiner gebiede wat bekend staan as opnemersgebiede. Hierdie gebiede moet op ’n kaart vasgelê word sodat die veldwerkers wat jou inligting in Oktober gaan versamel, sal weet waarheen om te gaan. Statistieke Suid-Afrika het ook “kleedrepetisies” onderneem sodat die tellingsproses glad kan verloop.
Hoe kan jy weet dat dit Statistieke SA-werknemers is?
Alle personeel van Stastieke Suid-Afrika sal ’n ID-kaart by hulle dra. Die veldwerkers sal ook geel T-hemde en oorjurke dra. Jy kan ook die Sensus 2011-inbelsentrum by 0800 110 248 skakel om ’n veldwerker se geloofwaardigheid te verifieer.
Het ek ’n waarborg dat my inligting vertroulik gehou sal word?
Kragtens die Wet op Statistieke van 1999 moet die Statistikus-generaal verseker dat ’n sensus op ’n gereelde basis geneem word. Die wet waarborg egter ook streng vertroulikheid van alle inligting wat vir statistiese doeleindes versamel word.
Dit bepaal voorts dat “die resultate van die samestelling en ontleding van die statistiese inligting wat ingevolge hierdie wet versamel is, nie op ’n wyse gepubliseer of versprei mag word wat die identifisering van ’n bepaalde individu, besigheid of ander organisasie moontlik maak nie.”
Alle werknemers van Statistieke SA word wetlik verbind deur die ondertekening van ’n eed van vertroulikheid om nooit enige inligting wat gedurende die uitvoering van hul pligte versamel is, bekend te maak nie. Hierdie eed bly van toepassing, selfs al word ’n werknemer se diens opgeskort.
Hoewel Statistieke SA versoek dat die respondent se volle name gegee word en die adres van die woning opgeneem word, word dit slegs vir gehaltebeheerdoeleindes gedoen. Dié inligting word nooit bekend gemaak nie, selfs nie eens aan ander regeringsagentskappe nie. ’n Individu word ook beskerm deur die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting en die Grondwet. Werknemers wat die Wet op Statistieke oortree, is strafbaar met ’n boete van R10 000 en/of ses maande tronkstraf.
Plaasprotokol
Statistieke SA is ook verbind tot die Plaasprotokol. Dié protokol is opgestel as regulasiemaatreël ten opsigte van hoe regeringsamptenare, soos Statistieke SA-veldwerkers, polisie, weermagpersoneel en inspekteurs van die Departement van Gesondheid, toegang tot plase mag verkry in die uitvoering van hul pligte.
Vir navrae of kommentaar oor Sensus 2011 skakel 0800 100 248, of stuur vir ’n e-pos na info@statssa.gov.za.
Webtuiste: www.statssa.gov.za.
Mnr. Fanie Roos, 082 804 2135, E-pos: fanier@statssa.gov.za
Me Vienie Botha, 082 474 8840, Tel. 012 310 2168/012 337 6492, Epos: vienieb@statssa.gov.za
Category: Afrikaans, Public Interest Comment »