Verteenwoordigers uit die rooivleis-, wol-, bokhaar- en wildprodusente-geledere het onlangs 'n werkgroep gestig om die probleem van skadeveroorsakende diere aan te spreek. 'n Uitnodiging is ook aan melk- en volstruisprodusente gerig om by die inisiatief in te skakel. Die werkgroep hoop om wetgewing en beleid gesamentlik te beinvloed, en sal slegs gesprek voer met partye wat verbind is tot 'n werkbare oplossing. Daar sal nie gehoor gegee word aan drukgroepe wat boikotte voorstaan nie.
Petrus de Wet is die voorsitter van die werkgroep.
Lewendehawe- en wildprodusente organisasies het onlangs in Port Elizabeth byeengekom om 'n werkgroep te vorm ten einde hul kragte saam te snoer om die probleem van skadeveroorsakende diere doeltreffend te kan aanspreek. Hiertydens is 'n samewerkingsooreenkoms tussen die verskeie organisasies geformaliseer.
Dit volg op statistieke wat onlangs deur ALPRU, gesetel by die Universiteit van die Vrystaat, vrygestel is en daarop dui dat die veebedryf die afgelope jaar die grootste verliese in die geskiedenis gely het as gevolg van skadeveroorsakende diere. Hierdie verliese is op R1,108 biljoen bereken en veral kleinveeprodusente word hierdeur geraak. Hierdie verliese sluit nie die skade in wat deur die grootvee- en wildbedrywe gely is nie.
[More]