Van skeer tot woltruie by kultuuruitstalling - Wheels at Vaal

U word vriendelik uitgenooi om vanaf 5 tot 6 September 2009 'n draai te kom maak by die Vaalpukkampus van die Noordwes-Universiteit,Vanderbijlpark.Vaal ou Wieleklub se jaarlikse Wheels at the Vaaluitstalling vind vir die vyfde keer op die kampus plaas.Vanjaar gaan dit die grootste lewende kultuuruitstalling in die land wees.

Plaaswerf:

Deel van die kultuuruitstalling is 'n plaaswerf op die kampus wat veral die stadsjapies se oë laat rek. Dit gaan vir hulle baie leersaam wees.(a) Ons gaan koeie melk,roomafskei,room karring en botter maak.(b)Koffiebone brand,bone maal en sakkie-/moerkoffie verkoop in ons plaasstal.(c) Uit ons byekorwe gaan ons heuning uitwaai en u kan met 'n bottel vars heuning huiswaarts keer.(d) Velle brei,rieme sny en swepe vleg (e) Kaiings uitbraai en saam met pap voorsit.(f) Donsvere pluk van die ganse en donskussings en –komberse verkoop. (g) Witblits stook en te koop aanbied vir die sterkes onder ons.(h) Brood,beskuit koekies en melktert bak in ons buite oond.(i) Skapeskeer,wolklas,spin en wolprodukte vervaardig.(j)Ystersmeewerk doen op die tradisionele manier,(k)Kersemaak,(l)vet kook en seepmaak. (m)leerskoene maak (n)maak van matte (o) ons gaan die heerlikste sagte koeksisters maak.Worcester Kleinplasies se museum en die Nasionale Wolkwekersvereniging se skaapskeerders kom weer kuier. Tharina Joubert van Reddersburg gaan demonstreer wat gebeur as die wol afgeskeer is tot die trui op die winkelrakke beland.

Vaalpukkampus

Die kampus is geleë op 'n 118-hektaar natuurreservaat met meer as twee kilometer rivierfront. Die kampus is geleë in Hendrik van Eck Boulevard,Vanderbijlpark. Die kampus met sy pragtige bome en grasperke is die ideale plek vir dié tipe uitstallings. Die teenwoordigheid van blouwildebeeste, blesbokke, gemsbokke en springbokke verleen 'n besonderse atmosfeer. Die kampus is goed ontwikkel met lapas, geboue, piekniekplekke, voldoende parkeerplek, uitstalruimte en goeie sekuriteit.

Grootste Lewende Kultuuruitstalling in Suid Afrika:

Die uitstalling was in die verlede net daarop gemik om die trotse eienaars van veteraanvoertuie die geleentheid te gee om te kom spog.Die klublede bestaan egter nie net uit versamelaars van veteraanvoertuie nie en daar is besluit om in almal se behoeftes te voorsien.Die klub het verder 'n verantwoordelikheid om die kultuur en kultuurgoedere te bewaar.Die besoekers se mond sal water en trane in die oë kry van verlange na die verlede.Kyk na ons spyskaart en ons is seker u sal graag deel daarvan wil wees.

1)Uitstalling van ou voertuie

Die uitstalling is nie net vir lede van die klub nie, almal wat trots is op hul voertuie van 20 jaar en ouer of wat 'n versamelitem besit, word genooi om te kom uitstal. Ty Terblanche kom al die pad van Durban af om sy pragtige 1904 Cadillac B Tourer te vertoon.Die motor is die enigste Cadillc wat voor 1915 gebou is en die oudste motor in werkende toestand. Die pragstuk is net voor die Tweede Wêreld oorlog vanaf die VSA na Suid Afrika ingevoer. Ty het dit in 1998 ten volle gerestoureer. Nie net motors nie, maar alles wat wiele het, word verwelkom. Bring dus u ou motor, trekker, bakkie,motorfiets,stoomenjin,statiese enjin of wat ook al wiele het en kom vertoon dit. Uitstallers betaal niks en kan selfs kom uitkamp vir die naweek langs die rivier.

2)Landbou afdeling:

Kan u nog onthou hoe die voorgeslagte verskillende plaasimplemente gebruik het? Wil u graag weet hoe hulle dit gedoen het? (Ons gaan mielies dors en die pitte maal vir u om pap tuis mee te maak.) Die gereedskap sal op uitstalling wees en daar sal deurlopend demonstrasies wees van hoe dit gebruik is. Ons het spesiaal mieliekoppe gaan optel in die lande naby Heilbron sodat daar vir twee dae demostrasies kan wees.

3)Statiese enjins:

Ons kan met trots sê dat ons die Guinness World Record met ons enjins in 2007 opgestel het.Lister die vervaardiger van die statiese enjins,vier vanjaar hul 100ste bestaansjaar en ons gaan 'n aanslag maak op ons eie rekord as geskenk van die firma wie se enjins wêreldwyd bekend is. Die enjins sal twee keer per dag aan die gang gesit word sodat u na die pragtige klank daarvan kan luister. Daar sal ook twee keer per dag 'n aanslag op die rekord wees. Die enjin uitstalling is elke jaar die grootste in die land en geen ander uitstalling kry meer enjins nie. Die vereiste vir die Guinness World Record is dat die enjins gelyktydig vir vyf minute aaneen moet hardloop.

4)Plaasstal;

Ons plaasstal gaan die volgende te koop aanbied: Lekkers, Ingelegte vrugte,Konfyt,Kerse,Seep,Swepe,Botter,Vet vir broodsmeer, Brood,Koekies,Tert,Koeksisters,Moerkoffie,Heuning,Donsveer-,Wolprodukte,Gemmerbier en Matte

Kosstalletjies

Ons gaan vanjaar meer en beter stalletjies hê sodat u nie te lank hoef te wag om bedien te word nie. Daar sal 'n groot verskeidenheid wees om van te kies. Honger sal u beslis nie ly nie. Ons gaan 'n volledige restaurant inrig vir diegene wat die voete wil laat rus en die honger stil.

Biertuin

Dit gebeur mos, met veral die manne, dat mens gou dors word as mens sulke mooi goed sien. Die biertuin sal in almal se behoeftes voorsien.Saterdagoggend kan u die toetswedstryd tussen die Springbokke en die Wallabies in Brisbane dop hou op die groot skerm in die groot lapa.

HiQ Radiostasie

Ons radiostasie sal op die kampus uitsaai en elke persoon op die terrein sal dit kan hoor.Ons gaan behalwe mooi musiek ook onderhoude met uitstallers voer sodat u die eienaars agter die pronkstukke kan ontmoet. Toeskouers kan ook met ons vriendelike omroepers gesels.Amore Bekker van RSG sal in bevel wees van ons stasie.

Speelpark vir die kinders

Moenie u kinders tuis los nie. Hulle kan baie kom leer en vir hulle is daar volop vermaak. Hulle kan dromtrein,trekker en sleepwa ry en perde ry.Ons verseker u dat hulle die uitstalling vir lank sal onthou.

Kuns en handwerk

Daar is altyd in die huis 'n plekkie vir iets moois. Ons uitstallers sal in al daardie behoeftes voorsien. Die Make Over uitstalling sal u help keuses uitoefen vir die verbetering van u woonplek.

Kultuuraktiwiteite

Ons gaan u beslis verras met al die verskillende kultuuraktiwiteite wat hier gaan plaasvind.U moet nie die opvoedkundige waarde daarvan onderskat nie.Hierdie uitstalling gaan die grootste lewende kultuuruitstalling in die land wees.Miskien kan u daarna spog dat u op TV was.

Hop on Hop off:

Die Treker en sleepwaens ,donkie- of perdekarre sal u gratis op die kampus rondneem. U hoef dus nie bekommerd te wees dat u te ver sal hoef te stap nie. Daar is bepaalde stasies waar hulle stop en dit sal gerieflik wees vir ons toeskouers.

Wen 'n Volkswagen Chico

Ons almal begeer 'n mooi motortjie. Die klub het 'n pragtige 1998-Volkswagen Chico 5 spoed(in 'n puik toestand--een eienaar) met 'n padwaardigheidsertifikaat wat gewen kan word deur 'n R20-00 kaartjie te koop. Miskien is u die gelukkige wenner. Kaartjies sal op die terrein beskikbaar wees by Vaal ou Wiele se inligtingstent.

Padkaart

Om te verseker dat u nie verdwaal nie, heg ons hierby 'n padkaart aan. Onthou die Vaalpukkampus is geleë by die rivier in Hendrik van Eck Boulevard in Vanderbijlpark. Vir persone wat vanaf die Rand ry : Neem die R59 vanaf Alberton na Vereeniging/Vanderbijlpark. Ry in die rigting van Sasolburg. Gaan oor die Vaalrivier en neem dan die eerste afrit Deneysville/Viljoensdrift. Draai regs by die stopstraat en ry dan in die rigting van Vanderbijlpark. By die eerste stopstraat draai u links in Hendrik van Eck Blvd. Ongeveer 500 meter kry u die Noordwes-Universiteit se kampus op die linkerkant.

Toegang:

Vir nie-uitstallers is die toegang slegs R20 per volwassene en R10 per skoolgaande kind.

Navrae:

U is baie welkom om ons te skakel vir enige verdere inligting wat u benodig:

Mauritz Meyer(Hooforganiseerder) 083 513 6632 of mauritz.meyer@nwu.ac.za

Rosie van Pypie(Stalletjies/administrasie)082 563 2500 of (016)910-3122

Verblyf

Indien u verblyf by 'n gastehuis,chalet of hotel benodig skakel vir Rosie van Pype

082 563 2500 of (016) 910-3122

Almal is welkom

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat u nie mag wegbly nie. U, u familie en u vriende word vriendelik uitgenooi om vir die twee dae te kom saam kuier. As almal na die tyd praat van Wheels at the Vaal se wonderlike uitstallings, wil u tog nie die een wees wat dit misgeloop het nie. Onthou dit word slegs een keer per jaar gehou en die toegang is slegs R20-00 per volwassene en R10 per skoolgaande kind. Die omgewing sal u in die regte stemming bring.

Ons het 'n afspraak op 5 en 6 September 2009

Comments
This blog is running version 5.9.2.002. Contact Site Administrator