Produksiepraktyke verklaring

VERKLARING MET BETREKKING TOT PRODUKSIEPRAKTYKE Nota: Teken die verklaring en stuur na u betrokke makelaar.

Ek, ................................................................................................, as bona fide wolboer, onderskryf die beginsels wat in die Bedryfskode vir Beste Praktyke vir Wolskaapboerdery vervat word, en onderneem om alle toepaslike prosesse te implementeer sodat die produk wat ek lewer aan alle nodige vereistes sal voldoen. Ek verbind myself tot eerlikheid en integriteit ten opsigte van alle aksies in hierdie verband.

Ten einde op 'n volhoubare basis wol van gehalte te produseer soos wat deur die mark vereis word, en om volhoubare natuurlike hulpbronbewaring, dierewelstand en sosiale verantwoordelikheid na te streef, onderskryf ek die volgende beginsels:

• Die seleksie en teling van diere wat goed aangepas is by die omgewing, en wat 'n sterk natuurlike weerstand het teen siektes en parasiete, en wat die vermoë het om te gedy onder gemiddelde toestande ten opsigte van voerhoeveelheid en -kwaliteit.

• Onder geen omstandighede die Mules-operasie te gebruik nie.

• Die beskikbaarstelling van kos en water voldoende vir die opbou en handhawing van natuurlike weerstand teen siektes en parasiete.

• Die gebruik van alle veemedisyne en –middels vir die behandeling van siektes en beserings streng volgens die produkspesifikasies soos voorgeskryf.

• Die streng navolging van veeartsenyvoorskrifte en/of voorgeskrewe wetlike vereistes vir die gebruik van entstowwe of ander geneesmiddels wat benodig word vir die voorkoming van endemiese dieresiektes en/of aanmeldbare dieresiektes.

• Toe te sien dat wanneer skape gehuisves, gehanteer of vervoer moet word, dit op 'n verantwoordelike manier deur opgeleide personeel sal plaasvind om stresvlakke tot die minimum te beperk. Gepaardgaande daarmee sal toegesien word dat slegs geskikte fasiliteite en toerusting gebruik word wat geen risiko/bedreiging vir óf die skape, of die personeel inhou nie.

• 'n Verbintenis tot omgewingsbewaring as 'n integrale deel van plaasbestuur, en die moniteer van die doeltreffendheid van my bestuursaksies in hierdie verband deur middel van toepaslike impakontleding, beplanning en moniteringstelsels.

• Die bewaring en verbetering van grondvrugbaarheid en -struktuur.

• Die doelgerigte en doeltreffende bestuur van alle waterbronne om vermorsing en besoedeling teen te werk.

• Die bevordering van die ontbinding van plantmateriaal om ontwikkeling van natuurlike organismes in die grond te ondersteun.

• Die vermindering van energieverbruik veral uit nie-hernubare bronne, deur middel van die gebruik van alternatiewe bronne soos sonlig, wind en water.

• Die pro-aktiewe bewaring van gevestigde biodiversiteit en die ontwikkeling en implementering van 'n bestuursplan om biodiversiteit uit te bou.

• Die implementering van 'n afvalbestuursplan om volume afval te verminder, te hersirkuleer, te herwin of in kompos om te sit, op 'n toepaslike wyse ten opsigte van die aard van die afvalstowwe ter sprake.

• Die implementering van 'n brandbestuurspan om vure te verhoed of te bestry wat die omgewing nadelig kan beïnvloed.

• Deurlopende afskaal van die gebruik van landbou chemikaliese produkte en die gebruik van sodanige produkte slegs streng volgens voorskrif.

• Die nakoming van die minimum onthoudingsperiodes wat voorgeskryf word vir die gebruik van ektoparasietbeheermiddels op wolskape en onkruidbeheermiddels op weidings.

• Die ontwikkeling en implementering van 'n holistiese en geïntegreerde roofdierbeheer-strategie en -aksieplan.

• Die skep van aangename werksomstandighede deur die toepassing van alle moderne beginsels van personeelbestuur.

• Die beskerming van personeelregte en die ordening van wedersydse verantwoordelikhede deur middel van toepaslike kontrakte wat voldoen aan die nodige wetlike vereistes.

• Die bemagtiging van personeel deur die aanmoediging om deurlopend opleiding en ontwikkeling te ondergaan, en om geleenthede te skep vir sodanige ontwikkeling ten opsigte van vaardighede en kapasiteit.

• Respek vir en die voldoen aan die basiese beginsels en vereistes van menseregte en werkersregte soos voorgeskryf deur die Internasionale Arbeidsorganisasie.

• Die gebruik van slegs opgeleide skeerders en klassers.

• Die gebruik van slegs bedryfsvoorgeskrewe en kwaliteitsbeheerde wolsakke.

• Die voorbereiding van my skeersel volgens die voorgeskrewe bedryfskode (die Cape Wools SA Klasstandaarde).

• Die instandhouding van geskikte skeerfasiliteite en die nakoming van alle voorgeskrewe prosedures om te verseker dat my skeersel vry is van alle vorme van besoedeling.

Handtekening: Adres: Datum: Produsent Nr.:

Comments
This blog is running version 5.9.2.002. Contact Site Administrator